
Sedert 1994, teel Patriot Boerbokstoet funksioneel doeltreffende Boerbokke wat die winsgewendheid van kommersiële kuddes verbeter. Ons boer ekstensief in die Graaff-Reinet distrik van die Karoo waar ons puik veld-aangepaste diere wat met minimale insette presteer, produseer.
Vrugbaarheid en uitstaande moedereienskappe is vir ons baie belangrik. Enige veeboerdery moet gesonde, swaar lammers binne die kortste tydsperiode, met die laagste insetkostes speen om ‘n gesonde wins te genereer. Dit verseker die volhoubaarheid van die boerdery.
Patriot Boerbokke voldoen deurlopend en winsgewend aan dié vereiste. U as koper is verseker dat hierdie genetika, tesame met u goeie bestuursinsette, ‘n verskil in u kudde sal maak.
Feit: Indien ‘n ooi nie lam nie, het sy geen inkomste vir die boerdery gegenereer nie. Sy is eintlik ‘n duur passasier.
Ons boer ekstensief op hoofsaaklik Karoo bergveld. Ons maak gebruik van ‘n lamhokstelsel om bestuur tydens hierdie kritieke tydperk te verskerp asook om verliese as gevolg van ongediertes aansienlik te beperk. Die klimaat wissel tussen baie warm in die somer (gemiddelde dagtemperature van so 30 – 43°C) tot koud (-8°C – 20°C) met ryp langs die Sondagsrivier en kapok op die berge in die winter. Hierdie toestande, asook die uitdagings van die besonderse bergveld, skep vir die bokke die ideale klimaat sodat hulle funksioneel doeltreffend en vrugbare bokke is waarmee mens maklik kan boer.
Ek glo nie daarin om my Boerbokke op stal te voer nie. Dit skep ‘n valse indruk van groot, indrukwekkende diere wat eintlik misleidend is. Die dier se vermoë om onder ekstensiewe toestande met minimale insette te presteer, word erg benadeel.
Patriot Boerbokstoet is by SA Stamboek sowel as die Suid-Afrikaanse Boerboktelers Genootskap geregistreer en ons neem deel aan die Nasionale Diereverbetering Skema. Ons prestasiesyfers – wat deur ons bedryfsleidende Herdmaster sagteware bestuur word – is aan alle kopers beskikbaar. Hierdie is ‘n verdere versekering dat u in uitstekende teelmateriaal wat u vooruitgang sal bespoedig, belê.